Tuisblad / Nuus / Baba ‘sou nie leef’, nou vyf maande oud

’n Regte vegtertjie. Dís hoe Cecilia du Plessis van Rustenburg vir Waldo Roos (vyf en ’n half maande) van Brits beskryf.

Terwyl hy almal stip dophou met sy blou oë, skop-skop hy die hele tyd, met sy vingers in sy mond.

Niks verklap dat dié knapie reeds ’n geveg of wat agter die rug het om aan die lewe te bly nie.

Hy is 23 weke gelede ná ’n swangerskap van minder as 30 weke gebore. Gerty Roos (28), sy ma, het weens plasentaloslating in kraam gegaan.

Du Plessis het in hul lewens gekom nadat sy ’n e-pos gekry het waarin gevra is dat ’n gebedsketting vir Waldo begin word.

Die dokters by die Job Shimane Thakane provinsiale hospitaal in Rustenburg het hom nie ’n kans op oorlewing gegee nie. Hy was 34cm lank en het 1,080kg geweeggroot genoeg om suurstof te mag ontvang maar nie lewensvatbaar genoeg om in die neonatale waakeenheid opgeneem te word nie.

Waldo se ma sê sy het nooit besef hoe ernstig sy toestand is nie. ’n Dokter het die suurstof van klein Waldo kom afhaal voor hy ontslaan is. Die dokter het toe vir haar gesê sy het eerder verwag dat sy die masjiene sal moet afskakel omdat Waldo sou doodgaan, as om hom te ontslaan.

“Dit was nogal ’n skok om dit te hoor.”

Waldo se pa, Frans, is ’n elektrisiën. Hy het sy werk verloor toe sy vrou drie maande swanger was. Hy werk nou weer, maar hul finansiële toestand laat nie nou private hospitale en -dokters toe nie. Die egpaar het ook twee dogters, Mia (5) en Marli (3).

Waldo is met twee groot liesbreuke gebore, en die pyn wat dít veroorsaak het, het gemaak dat hy die eerste paar maande van sy lewe baie swaar gekry het. Sy ingewande het afgesak tot in die skrotumsak. Sy ma moes dit elkers terugdruk, iets wat baie pynlik was. Dit het soms vasgeknyp, en ongeveer ses weke gelede het hulle uitgevind ’n operasie wag op hom. Sy toestand het drie weke gelede ’n noodoperasie nodig gemaak.

Dokters van die stad het hom gratis geopereer en Du Plessis, wat haarself nou Waldo se “ere-ouma” noem, het ’n ooreenkoms met die betrokke private hospitaal aangegaan om die rekening af te betaal soos sy geld insamel. Sy moet nog R25 000 insamel.

Mense wat meer inligting wil hê, kan Du Plessis bel by 0079 879 5674.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-05-22
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 14° - 21° icon
PTA 6° - 24° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 4° - 24° icon
DBN 14° - 28° icon
PE 13° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs