Nuus / Die myne is manswêreld

Dit is Vrouemaand, maar reeds voor die Marikana-bloedbad het die vroue van die mynwerkers gesê hulle het weinig om te vier.

Noordwes-Beeld het drie uur voordat die skote geklap het met enkele van die vroue gepraat wat uit solidariteit met hul mans (en in die geval van die vrouewerkers hul kollegas) ’n optog gehou het.

“Ons is voorbereid dat die staking die hele maand kan aanhou,” het verskeie van hulle gesê.

Die mans kry te min geld. Wat kan ’n mens met R5000 doen as jy self nie werk nie en kinders het? wou hulle weet.

Een van die vroue, Zanike Moshia, het met haar twee dogters, Simbili (6) en Anate (4), aan die hand aan die soom van die groep betogende vroue gestaan. Hulle kom van die Oos-Kaap en Moshia het nie werk nie. Sy het ook nie vooraf geweet van die staking nie.

Sy het nie geweet wat haar man doen nie sy weet net hy in die myn werk en die R5000 wat hy huis toe bring, is nie genoeg vir vier mense nie.

Simbili en Anate was nie die enigste kinders daar nie. Verskeie van die vroue het ’n baba op die rug gehaden daar was ook ’n paar kleuters.

Is dit nie gevaarlik om die kinders daar te hê nie? Nee, het die ma’s gesê, hulle is te klein om alleen gelaat te word; hulle moet maar saam. Die vroue kon ook nie wegbly nie, hulle moes by hul mans staandie mans, en in sommige gevalle die kollegas wat op die klipkoppie gesit het. Die klipkoppie wat hulle as “heilig” beskou en waar geen vrou haar voet mag sit nie.

’n Ry klippe sowat 30 treë van die koppie af is die grens. Geen vrou mag nader as dit kom nie.

Toe vakbond- en stakingsleiers die mense toegespreek het, het die sowat 80 betogende vroue eenkant gewag terwyl die vroueverslaggewers en -fotograwe by die klippe moes sit.

Vir die vrouebetogers was dit niks vreemds nie. Hoewel wetgewing dit die afgelope paar jaar verpligtend maak dat 10% van die ondergrondse werkmag vroue moet wees en dít as ’n deurbraak vir vroueregte beskou word, is die harde werklikheid dat dié regte nie vir alle mans aanvaarbaar is nie.

Busiswa (sy het gevra dat haar van nie genoem word nie) is ’n algemene ondergrondse werker. Sy, haar werklose man en twee kinders woon in ’n eenvertrek-wooneenheid. Volgens haar vereis van die mans wat met die toekenning van blyplek te doen het seksuele gunsies voordat sy ’n groter blyplek kan kry. “En daar is mans wie se gesinne ver bly wat twee- en drieslaapkamerhuise kry. Hulle verhuur daardie ander kamers.”

Nou, ná die skietery, is die kollig steeds op die stakende mans, maar dit is die vroue wat agterbly wat die stukkende oorblyfsels van huishoudings ná die bloedbad moet optel.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Sondag 2013-05-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 10° - 25° icon
PTA 10° - 21° icon
JHB 8° - 19° icon
BLOEM 6° - 23° icon
DBN 13° - 23° icon
PE 10° - 26° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs